Tuisblad

VRY OM DIE EVANGELIE TE GLO EN DIE WET TE GEHOORSAAM.

1.Ons weet dat God mense vergewe en red alleen deur sy genade, sonder die wet, en dat ons dit alleen deur geloof ontvang, sonder die gebede, bekerings, oorgawes, liefde en dade wat die wet van ons eis. (Rom.3:21en 22.)

2.Ons weet dat God ons regeer en ten volle vervul met die Heilige Gees slegs deur die evangelie, sonder die wet. Ons deel in hierdie regering en vervulling met die Gees alleen deur ons geloof in die evangelie, sonder die volle oorgawes, algehele liefde, oorgawe van die beheer van ons lewe of enige ander eis van die wet.(Gal.3:2-6)

3.Ons het ‘n nuwe gehoorsaamheid in Jesus Christus gevind waarin die wet van God, die Tien Gebooie, na elke reël en na sy volle inhoud vir ons die nuwe wet is. Ons erken geen ander geestelike reëls naas die Gebooie van God nie. (1 Joh.2:7 en 8.)

4.Hierdie vryheid handhaaf ons teenoor die “nuwe” geestelikheid in die NG Kerk waarin:

1.mense glo hulle word gered deur hulle lewe en hart aan God te gee, deur hulle van hulle sondes te bekeer en hulle op die eise van die wet toe te lê. 2.mense glo in die vervulling met God se lewe en krag deur met God te identifiseer 3.mense vir hulle ‘n wettelose lewenswyse skep waarin hulle Jesus as hulle geestelike rolmodel sien in die plek van God se wet.

4.Ons weet dat hierdie geestelikheid nie net nog ‘n spiritualiteit is wat ons moet begrip voor hê nie en wat ons in ons eie gemoed, eredienste, gemeentes en onderrig van ons kinders moet akkommodeer as net ‘n ander manier waarop medegelowiges dieselfde God as ons dien nie. Ons weet dis afgodsdiens.

5.Ons wil ons diens aan God binne in ons eie kerk beoefen, vry van afgodsdiens. Ons wil God dien volgens sy Woord met die innerlike vryheid dat ons tussen godsdiens en afgodsdiens kan onderskei. Ons wil God vertrou en gehoorsaam volgens sy Woord sonder om met Hom as God te identifiseer.

6.Hierdie vryheid wil ons vir onsself en die hele NG Kerk en daarmee saam vir alle ander medegelowiges handhaaf teenoor die druk vanuit ons eie geledere dat ons afgodsdiens binne in ons self en ons kerk as net nog ‘n manier moet aanvaar waarop mense God vereer en waarvoor ons respek en ruimte moet gee.

7.Ons het geen begrip en geen respek vir afgodsdiens nie – al is dit in die naam van Jesus Christus. Ons weet dit is die misbruik van sy Naam.

Hierdie webwerf staan in diens van hierdie godsdiensvryheid in Jesus Christus.

WAAR KAN ONS GESKAKEL WORD?

1. Posbus 46 Levubu 0929 2. Telefoon: 015 583 0020 3. Selfoon: 082 898 2081
4. epos: info@ngkerklevubu.net

KOPIEREG (c)

Alle literatuur en opnames op hierdie web werf mag gratis gebruik gekopieër en versprei word solank as wat die outeurs en die web werf se name op die literatuur behou word en geen geld vir die verspreiding en gebruik gevra word nie.

 

hits